Page Content: The 15th Stellenbosch University Wordfest (Woordfees) will take place from 6 to 16 March 2014. The festival's theme is "Kuns hier, kultuur daar – siedaar, 15 jaar!" and it will celebrate the wonder of the word as well as the remarkable growth of this popular festival over the past 15 years.
The SU Woordfees has developed into a national art festival. It started with 1000 festival-goers in 2000 and in 2013 more than 101 000 festival visits (number of visitors per venue per show) were recorded with an average attendance figure of 74%. According to two surveys the Stellenbosch economy received a cash injection of more than R102 Million during the festival in 2013.
More about the shows: Only available in Afrikaans at this stage.
Spesiale trieks en toertjies vir vyftiende fees
Vanjaar pluk die Woordfees vele vernuwings en verrassings uit die feestowenaar se pluiskeil in 'n yslike program met sowat 500 aanbiedings (herhalings ingesluit). Daar is baie spesiale aanbiedinge.
In Abra! verstom Jacques le Sueur en Alexander May feesgangers met hul kulkuns. Le Sueur, 'n internasionale kulkampioen, is bekend daarvoor dat hy Madiba se horlosie laat verdwyn (en darem ook later laat verskyn!) het. Dié twee kulkunstenaars gesels ook oor die geskiedenis van kulkuns in 'n program getiteld Die kuns en kultuur van kulkuns.
Die Mirakeltentjie (ook bekend as die Magic Gazebo) kan by die kykNET Erfurtkafee besoek word. Hier span top kulkunstenaars van Suid-Afrika saam om feesgangers met toertjies te betower. (Die Plataankafee word Erfurtkafee, om die Woordfees en WOW se nuwe tuiste te vier.)
Skrywersfees:
Oudergewoonte is die Skrywersfees een van die hoogtepunte op die feesprogram. In 2014 bring die Woordfees hulde aan vier besonderse stemme in die Afrikaanse skryfkuns. Corlia Fourie, die dogter van die bekroonde skrywer Mikro, se liefde vir stories is reeds vroeg vasgelê. Sy gesels op 13 Maart om 16:00 oor haar werk en lewe – eers as joernalis, maar ook as skrywer en verhaleredakteur van Rooi Rose.
Dan Sleigh, wat deesdae ewe bekend is as bekroonde historikus én skrywer, kom deel stories oor hoe sy skrywersloopbaan tot dusver verloop het. Hy praat ook oor die groot rol wat sy kundigheid oor die geskiedenis in sy skryfwerk speel en ons pols hom oor die kreatiewe manier waarop hy vars gedagtes en woorde uit sy hoed pluk.
Oor Engela van Rooyen skryf Cecile Cilliers die volgende: "Sy skryf met eerlikheid en gevoeligheid, sonder 'n greintjie sentimentaliteit. En daarvoor kan sy nie hoog genoeg aangeprys word nie." Dié geliefde skrywer se werk strek oor verskeie genres en word deur oud en jonk gelees. Kom vind uit waarom Engela so gewild is.
Lina Spies is nie net 'n bekende gesig op Stellenbosch nie, maar met haar herkenbare digterstem het sy ook 'n wye aanhang verwerf by sowel leerders en studente as by die breë publiek. Hendrik Hofmeyr vier haar werk, in opdrag van die Woordfees, saam met Minette du Toit-Pearce met 'n gloednuwe toonsetting van haar verse.
'n Hoogtepunt op die skrywersprogram is Toneelskrywers. Adam Small, wat in 2013 die Hertzog-prys vir Drama ontvang het, is deel van 'n uitgelese paneel teksskrywers wat oor die stand van teaterteksskryf, tendense en die oorlewing van toneel gesels. Chris Barnard, Saartjie Botha en Nicola Hanekom sluit by hom aan.
Die Woordfees is baie teleurgesteld dat dr. Mamphela Ramphele nie meer aan die fees kan deelneem nie. Sy is ten tyde van die Woordfees elders in die land met 'n verkiesingsveldtog besig. Sy sou op 14 Maart oor haar outobiografie, A Passion for Freedom, praat. Ook Max du Preez moes van die fees onttrek weens werksverpligtinge in die buiteland. Sy boek A Rumour of Spring: 20 years of democracy sal dus nie meer bespreek word nie.
Gunstelinge soos Deon Meyer, Deon Opperman, Dana Snyman, Abraham H. de Vries, Etienne van Heerden, Joan Hambidge, Wilna Adriaanse, en nog vele meer, is egter almal by Woordfees 2014. Debuutskrywers soos Dominique Botha (Valsrivier) en Johann Nell (Sondag op 'n voëlplaas) word ook op die fees verwelkom.
Vanjaar kan feesgangers hul lippe aflek vir die Japie Basson skrywers-etes. Sit aan vir 'n heerlike driegang-ete by Knorhoek Towerbosch Aardkombuis met sy kwinksinnige ouwêreldse interieur en gasvryheid, saam met skrywers soos Amanda Botha, André P. Brink, Annelie Botes, Karen Brynard, Riana Scheepers en die woordkunstenaar, digter, liedjie- en rubriekskrywer Koos van der Merwe. Die "proe al padlangs"-wyntoere en die Clemengold Woord en wyn-etes bied aan 'n handjievol feesgangers die geleentheid om saam met bekendes die wynlande om Stellenbosch te besoek.
Dansky 'n stampvol De Vette Mossel jaar ná jaar (en mense wat steeds smeek om net te staan en luister!) word daar vanjaar twee keer om die uiters gewilde Storievuur gekuier. Feesgangers het dus dubbel die kans om saam met Johan Bakkes en sy gaste, wat Blouwillem Theron, Amore Bekker en Albert Maritz insluit, te kuier. Victor Wolff en Les Javan sorg vir ritme vir elke feesvoet.
Gaste uit die Nederlande sluit in Naomi Perquin en Bart Moeyaert, wat sy 50ste verjaarsdag in 2014 vier. Verskeie werkswinkels, gesprekke en boekbekendstellings maak deel van die program uit. Vanjaar bring die ATKV 'n hele tent vol boeke waar boekwurms heerlik kan snuffel. Die skrywersprogram is werklik 'n pluiskeil propvol pret.
Musiekfees:
Die Sanlam musiekverhoog spog met die beste aan die Suid-Afrikaanse musiekfront in talle uitstekende en verrassende kombinasies op die verhoog: Adam en Heavenly Quartez, Jemery Loops en Matthew Mole, Karin Zoid en Emo Adams, Stef Bos en Koos Kombuis. Groot name soos David Kramer, Theuns Jordaan, Jak de Priester, Jannie Moolman, Elvis Blue en Die Heuwels Fantasties sal feesvoete beslis laat jeuk.
Laurinda Hofmeyr, wat bekend is vir haar pragverwerkings van Afrikaanse digters se verse, is vanjaar terug met 'n solo-vertoning. Niël Rademan, Selim Kagee en André Terblanche belowe 'n hoë noot of twee saam met Lucas Heinen (klavier) en Stanislav Angulov (trekklavier) in 'n produksie getiteld 5Maestro's! Die nimlike Nataniël, die Steinway-pianis Charl du Plessis en die kitaarvirtuoos Juan Oosthuizen keer terug na die kykNET Endler vir wondervertonings vol verrassings.
Leonard Cohen-liefhebbers kan nader staan vir Koos van der Merwe se Afrikaanse vertalings van dié geliefde liedjieskrywer en sanger. In Jaloersbokkies is kunstenaars soos Jawaahier Petersen, Nedine Blom, Ashur Petersen, Yazeed Williams, Adrian Abrahams, Robin Kock en Rhyno Domingo te sien. Dis so eg-Kaaps soos breyani en koesisters en beloof om die gehoor te bekoor met skatte soos 'Daar kom die Alibama', 'Mannetjies Roux' en die Maleier-treffer 'Rosa'.
Een produksie wat nie gemis mag word nie, is 15 Vroue. Vyftien bekende musiekkunstenaars, onder andere Amanda Strydom, Lize Beekman, Anna Davel en Rina Hugo, span saam om die 15de bestaansjaar van die Woordfees glorieryk en skouspelagtig te herdenk in ʼn sterbelaaide produksie met magiese musiek.
Vir feesgangers met fynproewer-ore is die Stabat Mater van Karl Jenkis spesiaal op die spyskaart. Minette du Toit-Pearce en die Libertas-koor bied dié Walliese komponis se verruklike interpretasie van die 13de-eeuse Rooms-Katolieke gebed oor die lyding van Maria aan. Stabat Mater speel nie alleen in op tradisionele Westerse musiek nie, maar sluit ook etniese instrumente, Midde-Oosterse vokale werk en perkussie-instrumente in, met fragmente in Aramees en antieke Arabies. Dié magistrale werk vir koor en simfonie-orkes is aangepas vir 15 orkeslede. Zorada Temmingh begelei dié magiese gebeurtenis met die orrel.
Die Woordfees se gewilde laataand jolkol is oudergewoonte reg met yskoue wyn en vuurwarm blues. Gian Groen, Bruce Ewen, Greg Smith, Derek Harper Jr., Basson Laubscher, Sven Blumer, Natasha Meister, Piet Botha, Dr John en Albert Frost rock De Vette Mossel se verhoog by die Drostdy-Hof Blues @ De Vette Mossel.
Dramafees:
Die Woordfees se dramaprogram spog in 2014 met ʼn groot verskeidenheid uitstekende aanbiedings.
Deon Opperman, wat reeds met die Hertzog-prys vir drama bekroon is en duisende Suid-Afrikanders met reekse soos Getroud met rugby en Donkerland voor die kassie vasgenael gehou het, se nuutste drama is spesiaal geskryf vir twee legendes van die Suid-Afrikaanse verhoog. As ek reg onthou, met Louis van Niekerk en Brümilda van Rensburg, is 'n hoogtepunt.
Anton Tsjechof se Die kersieboord word vanjaar deur The Mechanicals aangebied. Oscar Petersen, Tinarie van Wyk Loots, Carel Nel, Wilhelm van der Walt, Nandi Horak, Roxanne Blaise, Sjaka Septembir, Marvin-Lee Beukes en Bianca Flanders is te sien in hierdie uitstekende verwerking deur Sandra Temmingh. 'n Klassieke teks in 'n nuwe, Afrikaanse baadjie!
Adam Small se klassieke en bekroonde Kanna hy kô hystoe, volgens André P. Brink die beste drama in Afrikaans, is in 2014 op die feesverhoog. Die bekende akteur en Kovsies-lektor Gerben Kamper gee lewe aan Small se toneelstuk oor die armes wat altyd daar sal wees. Hierdie produksie moet deur almal beleef word.
Die immergewilde Sandra Prinsloo is vanjaar te sien in Die Leo's, Hennie van Greunen se vertaling van Nicky Silver se teks. Saam met haar verskyn Tobie Cronjé, Jacques Theron, Erica Wessels, Gideon Lombard en Petro van den Heever in 'n aangrypende drama oor aaklige mense wat onder een sterreteken gebore is.
Van Greunen staan ook pa vir Die monster in die gang, 'n vertaling van David Greig se teks. Anthea Thompson, Waldemar Schultz, Greta Pietersen en Wessel Pretorius tree op in 'n stuk vol verrassings oor 'n meisie wat droom om normaal te wees, 'n pa wat ure verwyl met sy aanlyn-rolspeltoernooie, 'n onverwagse besoek deur 'n sexy dame en die verskyning van 'n gek Sweedse vrou. Dié energieke ensemble laat loop teen die spoed van 'n vuurwarm motorfiets en maak 'n draai by televisiespeletjies, musiek uit die 60's, feeverhale, fisieke komedie en macaroni-en-kaas.
Gunstelinge soos Marion Holm is terug in HOLM: geMARIONneer en Margit Meyer-Rödenbeck is Dowwe Dolla in ddbb... Dowwe Dolla betaal belasting.
Die komedie Hotel Vleispaleis, met Susanne Beyers, Amalia Uys en Dorette Potgieter, gaan gehore laat skater. In Gaerin Hauptfleisch se produksie van Leon Kruger se teks gaan dit nie goed met tannie Edie se bordeel nie. Een gereelde kliënt dink Shanie se tone is 'n draairoomys en die vulstasiebestuurder betaal met 'n tenk petrol. En Suzie se kêrel wil ophou betaal as hulle verloof raak. As Amelda dag dis 'n bemarkingspos en daar kom werk, moet sy inhibisies leer afskud, leer skootskoffel (lap dance) en verlei. Maar wie is sy eintlik? 'n Komedie oor lojaliteit, deernis, vriendskap en die waarde van 'n goeie skootskoffel!
Vir die eerste keer is Mark Lottering op die Woordfees te sien. In Lottering Live ontmoet feesgangers van Lottering se gewildste karakters: Auntie Merele Abrahams van Athlone en Smiley, wat almal se fares in die taxi moet collect. Kom hoor wat hy (en hulle!) te sê het.
Die produksiehuis Polony, wat vir wenners soos N is vir neurose, Die lelike eend en Tjop-en-dop op vorige Woordfeeste gesorg het, bring vanjaar twee stukke na die Woordfees. Meerfout, met die jong aktrises Cintaine Schutte en Mariechen Vosloo, is 'n stuk oor die moderne vrou se konflik tussen verwagting en verpligting. In Waterpas bied Wessel Pretorius (van Ont-faam) 'n studie in waansin. Hy is die skrywer van hierdie stuk wat beskryf word as 'n eksistensiële laslap-komedie oor die lewe, die dood en al die fratsongelukke wat tussenin gebeur.
Wit manne se wapens is 'n lekker humoristiese, nostalgiese terugblik op ons ouer wit mans se weermagdae. Die troepie, die korporaal, die slapgat, die dofkop – almal kom maak 'n draai. Die vraag is: Waar staan ons nou? Die oorspronklike stuk is hoogs suksesvol in dertien lande opgevoer. 'n Gulde geleentheid vir Gys de Villiers om sy talente uit sy akteurshoed te pluk met twaalf karakters, elk met sy eie unieke fisieke styl!
Tersius Kapp se Oorsee is by Aardklop aangewys as die wenner van die AngloGold Ashanti Smeltkroes-prys vir beste nuwe teks. Kom kyk op die Woordfees waarom. Ander stukke wat nie gemis moet word nie, is Nagwond, Tara Notcutt se nuutste projek, en Saartjie Botha se vertaling van Edward Albee se Who's Afraid of Virginia Woolf, waarvan die regie deur die opwindende jong regisseur Christiaan Olwagen behartig word.
Daar is boonop elke aand kabarette en konserte in die Aan de Braak teater, wat nou in die Erfurthuis is. En met die Boektent wat snags die Eikestadnuus Klankkamer word, is die feeskern snags net so bedrywig as waneer die son skyn.
Diskoers
Die US Woordfees is bekend as forum vir kritiese gesprekke. RSG saai daagliks weer Monitor, Spektrum en Praat saam uit, maar dit gebeur vanjaar vanaf die Erfurtkafee voor die Erfurthuis. Dié gewilde reeks, wat altyd sorg vir ʼn volgepakte feeskern, word onder die vaandel van USB-Ed, Die Burger en RSG aangebied.
In 2014 sien 'n nuwe gespreksreeks die lig: Geloof op die markplein is 'n gespreksreeks deur Stellenbosch se NG Moederkerk waar, ná die Kerkbode-debakel van 2013, kwessies wat gelowiges én vrygeestiges raak as 't ware na die markplein gebring word in 'n uitreik na die gemeenskap. Dit vier oop gesprek en wil demonstreer dat die NG Kerk nie uit pas is met eietydse vraagstukke nie.
Maties se SR sorg weer vir die Van Zyl Slabbert-diskoersreeks, interaksie-gesprekke met die leiers van môre. Kom luister ook hoe oud-dosente van die US sake uitpraat in die Beste Professor-gespreksreeks, onder leiding van oudrektor Andreas van Wyk. Dit word by De Vette Mossel aangebied en gee terselfdertyd geleentheid om die Mossel se heerlike ontbyt te beproef. Ook by De Vette Mossel is 'n gespreksreeks getiteld Wat sê die sterre..., middagete-gesprekke waar die akteurs in die Dramafees 'n skelm kykie agter die skerms van die treffertoneelproduksies gee.
Kunsfees
Die feeskunstenaar vir 2014 is Diek Grobler. Sy kleurryke en speelse uitbeelding van die feestema pryk op die feesplakkaat en programboeke en sy magiese verkoopsuitstalling is in Die Voortrekkers PJ Olivier Kunssentrum te sien. Die werk van sowat dertig kunstenaars word ook hier uitgestal in 'n wonderbaarlike verkoopsuitstalling wat 'n voorste haas uit die kunshoed is, met baie winskopies
Kunsliefhebbers kan weer die Stellenbosse galerye wat op die Kunsroete aangedui word, besoek. 'n Hoogtepunt op die kunsroete is Magicus by die D-street galery, 'n magiese kunsuitstalling uit die kwaste van Clare Menck, Cobus van Bosch, Jan du Toit, Peter van Straten, Shaney van den Berg, Andries Gouws en Ingrid Winterbach. Daar is ook beeldhouwerk deur Niël Jonker en Lionel Smit.
Die digter en kunstenaar Louis Jansen van Vuuren se uitstalling In 'n oogwink – win citu oculi móét by die Oude Libertas Kunsgalery besigtig word. Hier word 'n onlangse reeks werke in gemengde medium aangebied waar die kunstenaar aspekte van die portret as skeppende onderwerp, die verwantskap tussen sitter en waarnemer en die 'vlietende' oomblik wat die beoogde bestemming word, ondersoek.
Andersoortige kuns is die dierbare aanbieders van geliefde TV reekse soos Haas Das se nuuskas en karakters uit Liewe Heksie soos die nimlike Heksie, Blommie Kabouter, Karel Kraai, Sarel Seemonster, Bennie Boekwurm, Knersus, Mannemarak en Mina Moo en talle ander uit die begindae van Afrikaanse TV. Meer as 200 marionette, staaf- en handpoppe wat oor die afgelope 39 jaar deur die Klein Marionette-geselskap en die eertydse modelbou-afdeling van die SAUK-televisiediens ontwerp en vervaardig is, word by die Radio Helderberg Klein Libertas Teater uitgestal, met rondleidings deur die kreatiewe gees agter 'n groot aantal daarvan, Louise en 'n interessante gesprek word daaroor gevoer.
Die Woordfees se WOW
Die Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW)-leesbevorderingsprojek bied weer ʼn reeks opvoedkundige werkswinkels, praatjies en boekbekendstellings aan vir onderwysers en leerders van alle ouderdomme. Bekende skrywers en rolmodelle inspireer die jeug met optredes en motiveringspraatjies en die gewilde Karnaval op die Van der Stel-sportterrein het al ʼn instelling geword. Vanjaar kan die gemeenskap kom luister na Emo Adams, Jimmy Nevis, plaaslike orkeste, Salome, Tururu en vele meer. Dis gesonde en veilige vermaak vir die hele gesin, maar vir die grootmense bied die biertent lafenis teen die hitte.