The FNB Maties will take home the Grand Challenge cup for the fourth year in a row if they beat a struggling Villagers side on Saturday.
Complete translation in English to follow.
Verlede Vrydag het die Maties omtrent krieket teen Helderberg gespeel, en 102-10 gewen. Die heelagter Kyle Steyn en die vleuel Devon Williams het albei 'n driekuns behaal, en die ander vleuel, Brandon Asher-Wood, het twee drieë gedruk. Die flank Justin Benn en die plaasvervanger-losskakel Edri Vorster het ook albei twee drieë gedruk. Skrumskakel Brendon Nell, slot Grant Prior en die reserwe Attie Janse van Rensburg was ook almal driedrukkers met die speler van die wedstryd, die veteraansenter Louis Jordaan, wat ook agter die pale gaan kuier het.
Dit was 'n goeie aand vir die Matiespanne gewees, met die Steinhoff Cravens (58-5), Steinhoff Junior Cravens (74-0) en Steinhoff Junior Maties (54-0) wat almal groot oorwinnings behaal het. Die Junior Maties sal Saterdag ook hulle liga wen indien hulle met Villager se o.20-span afreken.
Die Steinhoff Victoriane het 71-19 gewen teen die besoekende St. George's en sal Saterdag teen Primrose die seisoen op 'n hoë noot wil eindig. Die Steinhoff Markötters (64-0) en die Steinhoff Junior Markötters (81-6) het ook goeie rugby gespeel. Die Steinhoff Junior Victoriane se teenstanders het nie opgedaag nie.
Die Maties rus tans 'n paar van hulle eerstekeusespelers met die oog op die tweede deel van die liga, die Presidentsbeker. Die span sal te danke aan sy plek op die punteleer direk in die semifinaal geplaas word. Die Victoriane kan ook in die topses eindig indien hulle Saterdag 'n bonuspunt verower en Durbanville-Bellville vir SK-Walmers klop. Die finaal van die Presidentsbeker vind op Erfenisdag plaas.
Komende Saterdag speel sowel die Maties as die Vics tuis.
KOSHUISRUGBY
Elsenburg het verlede week 'n groot opskudding veroorsaak toe hulle 21-21 gelykop teen Dagbreek gespeel het. Die drie bonuspunte wat Elsenburg verower het, plaas hulle binne reikafstand van die boonste vier spanne op die punteleer (Dagbreek, PSO Barbarians, Huis Marais en Eendrag). Die stut Jaco du Plessis is as die speler van die wedstryd aangewys en dit getuig van die fisieke benadering wat Elsenburg gevolg het.
Die vleuel Lourens Bester was aan die voorpunt van Eendrag se 18-10-oorwinning oor PSO. Bester het 'n drie gedruk en ook 'n doelskop en twee strafskoppe oorgeklits. Die feit dat PSO Barbarians geen ligapunte uit die wedstryd kon kry, kan dalk later hul plek op die punteleer beïnvloed.
In die derby tussen Helderberg en Simonsberg was dit die Swarras wat 21-0 gewen het. Die skrumskakel Johan Alberts was die uitblinker vir Helderberg en sou vir afrigter Marnus de Wet, wat op sy dag self vir Helderberg skrumskakel gespeel het, 'n groot riem onder die hart gewees het.
Die speler van die taai wedstryd tussen Huis Marais en Medies, het uit die verloorspan gekom. Hoewel Huis Marais 22-10 gewen het, was dit Medies se heelagter Cameron de Kock wat die oog gevang het.
Helshoogte het Majuba seergemaak en 31-0 gewen. Die slot Nicolaas Loubser en sy makkers in die Helshoogte-pak het groot skade gemaak en dit het beteken hul agterlyn kon behoorlik baljaar met die bal.
Daar is altesaam agt drieë in die wedstryd tussen Wilgenhof en Academia gedruk, maar ongelukkig vir Academia was sewe van hulle deur Willows-manne. Die finale telling was 45-7 en dit was nog 'n slot, James Coldrey, wat uitgeblink het.
Vrydag se wedstryde: Academia vs Huis Marais; Eendrag vs Elsenburg; PSO vs Medies; Wilgenhof vs Helshoogte; Dagbreek vs Helderberg en Simonsberg vs Majuba.
